Biltong - die gesonde peuselhappie – Claasens Designs CC

Biltong - die gesonde peuselhappie

biltong biltong gesond peusel happies

Ons is almal baie lief vir eet.  Of ons nou rustig by die huis sit of op kantoor swoeg om deur die dag te kom – ‘n lekker eetdingetjie is altyd welkom en die blote gedagte aan iets te ete laat gewoonlik sommer ons monde water.

Die probleem is dat die meeste peuselhappies ongesond is en niks goeds voorspel vir ons gewig nie.  Maar ons hier by Claasens Designs het die ideale oplossing:

Peusel aan biltong!  Biltong is hoog in proteïen, yster en kreatien en bevat geen suiker en ander bymiddels nie.  Dit is laag in koolhidrate en is daarom die ideale versnapering om aan te peusel.  Wees dalk net versigtig vir die hoeveelheid sout in jou biltong, veral as jy bloeddruk probleme het.  Lees die verpakking en maak seker jy kies ‘n produk met die minimum sout.

As ons dink aan peuselhappies is die meeste daarvan ongesond, maar biltong is beslis die uitsondering op die reël.  Biltong word gemaak van die beste snitte vleis en met baie min vet verdien dit ‘n plek in elke gesonde eetplan.

Die feit dat biltong so ‘n goeie bron van proteïen is, maak dit ideaal vir mense wat gereeld oefen.  Proteïene bou spiere!  Individue wat gereeld oefen benodig baie meer proteïen as ander.  Biltong is laag in koolhidrate en daarom is dit ‘n gewilde keuse vir stappers en kampeerders, asook fietsryers.

Biltong is ‘n vleisproduk en dit behou die voedingswaarde van die oorspronklike rou vleis waarvan dit gemaak word.  Die vleis word uitgedroog en verloor gewoonlik ‘n derde tot die helfte van die gewig tydens die droog proses.  Dit beteken dat, in vergelyking met vars vleis, het biltong ‘n 80 tot 100% hoër konsentrasie proteïene.

Biltong is dus die ideale peuselhappie vir:

  • ‘n Lae koolhidraat, lae vet, hoë proteïen dieet
  • Atlete en ander sport entoesiaste - stappers, kampeerders, jagters en vissermanne!
  • Diabete
  • Kosblikke vir skoolkinders
  • ‘n Lekker eetdingetjie by die werk

Die gemiddelde voedingswaarde van 100g biltong is as volg:

  • Energie 1 052Kj
  • Kalorieë 249kcal
  • Proteïen 52.2g
  • Kreatien 1.3g
  • Koolhidrate 1.4g
  • Vet 3.8g (1.4g versadigde vette)
  • Sodium 1.9g

Bron:  Internet

 


Older Post Newer Post