Hoe bêre mens biltong? – Claasens Designs CC

Hoe bêre mens biltong?

bêre biltong; berg biltong; opberging van biltong; vries van biltong

Dit is nou net vir die van ons wat wilskrag het en nie alles gelyk opeet nie!

Maar ernstig nou, wat is die beste manier om biltong te berg?

Biltong is ‘n natuurlike produk en moet dus op ‘n natuurlike manier gestoor word.  Hoe “natter” jy van jou biltong hou, hoe vinniger kan dit muf.  Ekstra sorg moet dus aan die dag gelê word as jy nat biltong wil bêre.   Suid-Afrika se klimaat, met ‘n humiditeit van laer as 30%, is ideaal vir die maak en berging van biltong.

Biltong se “raklewe” kan verleng word deur dit met sorg te berg.  Biltong is ongelukkig nie “onvernietigbaar” soos soms geglo word nie.  Die rede hoekom biltong “sleg” word, is omdat dit verkeerd gebêre word.

Plaas die biltong in ‘n OOP bak en meng dit gereeld.  Meng  dit daagliks vir ‘n maksimum van 4 tot 6 dae, of totdat dit opgeëet is!  Muf vorm wanneer die biltong in kontak kom met ‘n ander oppervlak.  Vog vorm daar waar kontak met die ander oppervlak plaasvind en dit is wat die muf veroorsaak.  Dus :  VOG + SUURSTOF + HITTE + KONTAK = MUF.

Jy kan jou biltong in die yskas of selfs vrieskas bêre, maar onthou dat die vriesproses skade aan die vleisweefsel sal veroorsaak en dus die smaak kan beïnvloed.  Kort periodes van bevriesing behoort teoreties die biltong te bewaar van oksidasie, bakterieë en swamme maar die probleem kom by die feit dat tydens bevriesing water in die vleisselle kristalle vorm wat uitsit en die wande/membrame van die selle beskadig.  Solank die biltong gevries bly, het dit geen effek nie, maar tydens ontvriesing gaan hierdie kristalle uit die selle ontsnap en moontlike chemiese prosesse tot gevolg hê wat die struktuur en ook moontlik die smaak van die biltong kan affekteer.

Die keuse is dus joune of jy jou biltong wil vries of nie.  Onthou net dat biltong vog vrylaat sodra dit begin ontvries.  Dit is die gevaarlike tyd!  Maak seker die biltong is op ‘n goed geventileerde plek geplaas sodat die vog wat vorm kan verdamp.  Meng die biltong gereeld en druk dit droog met ‘n papierhanddoek sou dit nodig wees om ekstra vog te verwyder.  Eet dit binne 4 tot 6 dae.

Moet nooit biltong in ‘n geseëlde houer bêre nie – dit sweet en dit gaan muf.  Biltong moet kan asemhaal!

Meer inligting oor die Claasens biltongkerwers kan gekry word op:  www.claasensdesigns.co.za

Bronne:

http://www.biltongcompany.co.uk/biltong_facts/take_care_of_your_tong

https://www.quora.com/Does-freezing-beef-affect-its-quality-and-taste

 


Older Post Newer Post